Community, Development|

Verklaring deur Burgemeester Gesie van Deventer

Die Stellenbosch Munisipaliteit het op 28 November 2018 sy jaarlikse veldtog vir die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders geloods op die Braak in die hartjie van Stellenbosch. Hierdie veldtog word jaarliks regoor die land gehou om ons daaraan te herinner dat geweld en misdaad teen veral vroue en kinders in Suid-Afrika steeds baie voorkom en dat dit nie ‘n probleem is wat vanself gaan verdwyn nie.

Geweld teen vroue en kinders is nie ʼn probleem wat uniek is tot ʼn spesifieke ekonomiese klas of kultuurgroep nie. Dit diskrimineer nie teen wit of swart, ryk of arm, gay of “straight” nie – dit is ʼn verskriklike en werklike probleem wat oral in ons samelewing voorkom. Alhoewel die veldtog jaarliks net gefokus is op 16 dae, is dit nie ‘n probleem wat beperk is tot ‘n sekere aantal dae nie. Dit is belangrik om ons daaraan te herinner dat die slagoffers van mishandeling en geweld elke dag saam met ons leef en werk.

Die Verenigde Nasies se tema vir hierdie jaar is “#HearMeToo” en fokus op die stories van slagoffers, wat so dikwels steeds geïgnoreer word of ligtelik deur selfs owerhede afgemaak word. In die Wes-Kaap fokus ons op “Count Me In”. Dit plaas die klem om die hele gemeenskap en verwys daarna dat die hele gemeenskap slagoffers van geweld is en daaraan blootgestel is, totdat ons almal saam staan en praat oor hierdie probleem.

Ek weet dat dit baie moeilik is om te erken dat u ʼn slagoffer is of selfs was, maar ek vra u asseblief, praat hieroor en kry hulp! Ek sal enige iemand wat my kontak hieroor probeer help en met streng vertroulikheid hanteer. Ons moet sterk standpunt inneem in ons gemeenskappe en help om ons vroue en kinders te beskerm en te beveilig teen geweld.
Dankie aan elke polisielid, nie-regeringsorganisasie en mediese beampte wat slagoffers van mishandeling en geweld met groot deernis en respek hanteer. Ons is afhanklik van u samewerking om geweld en mishandeling te stop.

As Burgemeester wil ek ‘n beroep op elke inwoner doen om asseblief nie hierdie vreeslike plaag te duld nie. Indien u bewus is van iemand wat mishandel word, meld dit asseblief aan. Dit is slegs wanneer ons die stilte en geheimhouding oor mishandeling en geweld gaan breek, dat ons die situasie sal kan verbeter.

Media queries:

Stuart Grobbelaar T: 021 808 8172 | C: 084 036 1395

Mart-Marié Haasbroek T: 021 808 8024 | C: 072 910 3724

Comments are closed.

Close Search Window