Town News|

Verklaring deur Burgemeester Gesie van Deventer


Die nuwe regulasies wat onlangs deur die Nasionale Tesourie en Departement van Plaaslike Regering aangekondig is, is nie vir ons ‘n verassing nie en word lankal reeds toegepas in Stellenbosch. Hierdie kostebesparingsregulasies, wat op munisipaliteite regoor die land van toepassing is, het amptelik op 1 Julie 2019 in werking getree.

Die maatreëls is egter niks nuuts vir Stellenbosch nie. Die politici en administrasie van hierdie Munisipaliteit is verbind tot effektiewe finansiële bestuur. Met die intree van die huidige raad, het die Burgemeester reeds hierdie kostebesparingsmaatreëls streng toegepas en seker gemaak dat onnodige uitgawes en vermorsing van fondse gestaak word.

Daar is weg gedoen met uitgawes en kostes wat nie tot die voordeel van ons gemeenskap strek nie. Daarom gee Stellenbosch die pas aan as dit kom by slim werk met die publiek se geld. ‘n Paar stappe wat ons as munisipaliteit reeds vir jare in plek het, sluit ondermeer in:

• Geen Raadslede of amptenare van die munisipaliteit het kredietkaarte tot hul beskikking waarvan die Raad die rekening betaal nie.
• Die munisipaliteit koop nie enige voertuie aan vir die gebruik van Raadslede nie.
• Die Burgemeester se ampsmotor was 10 jaar terug aangekoop en is ‘n 2009 model.
• Die ampsmotor wat vroeër jare deur die Onderburgemeester gebruik is, is in 2016 oorgeplaas na die Verkeersdepartement en word nou gebruik as ‘n noodreaksievoertuig by ongelukstonele.
• Bywoning van konferensies en werkswinkels word streng beperk tot onderwerpe wat werklik verband hou met die werk van ʼn amptenaar. Konferensies en werkswinkels wat deur ons as Munisipaliteit aangebied word of waarvoor ons as gasheer optree, word intern fasiliteer en munisipale geboue/sale word hiervoor gebruik om kostes te bespaar.
• Geen Raadslede of amptenare vlieg eersteklas of besigheidsklas nie, self nie vir vlugte van 5 ure en langer nie. Buitelandse reise word reeds tot ʼn absolute minimum beperk.
• Hotel akkommodasie vir Raadslede en amptenare word beperk tot 3 of 4 ster enkelkamers.
• Onthaaltoelaes is beperk en word streng gereguleer. Geen alkohol word enigsins deur die Raad betaal nie. Die Munisipaliteit betaal ook glad nie vir enige alkohol tydens funksies of wanneer belangrike gaste en besoekers onthaal word nie.
• Die munisipaliteit betaal nie vir jaareindfunksies van personeel nie.
• Konsultante word slegs aangestel in gevalle waar die munisipaliteit nie intern oor die nodige kundigheid of tegniese vaardighede beskik nie. Waar dit wel gedoen word, word daar streng by voorgeskrewe Verkrygingskanaal prosedures gehou.

Hierdie is slegs ‘n paar voorbeelde van maatreëls wat reeds vir jare by die Stellenbosch Munisipaliteit in werking is om goeie finansiële bestuur te verseker. Die Munisipaliteit bly daartoe verbind dat elke sent van ons belastingbetalers se geld aangewend moet word om gehalte munisipale dienste te lewer aan elke inwoner. Ons verwelkom die aankondiging dat hierdie maatreëls nou amptelike regulasie geword het.

Media queries:

Stuart Grobbelaar T: 021 808 8172 | C: 084 036 1395

Mart-Marié Haasbroek T: 021 808 8024 | C: 072 910 3724

Comments are closed.

Close Search Window