Community, Development|

Verklaring deur Gesie van Deventer – Uitvoerende Burgemeester


Die skep van behuisingsgeleenthede is een van die hoof fokuspunte vir die Stellenbosch Munisipaliteit. Die behoefte aan behuisingsgeleenthede en die erns waarmee ons hierdie saak aanpak om die geleenthede te bespoedig, word ook uitgelê in die begroting vir die nuwe finansiële jaar wat op 1 Julie 2019 intree.


Gedurende die voorlegging van die nuwe begroting, het Burgemeester van Deventer klem geplaas op hoe belangrik dit is dat die Munisipaliteit alles moontlik doen om die skep van behuisingsgeleenthede te bespoedig. Burgemeester van Deventer het gesê dat gedurende die GOP, (geïntegreerde ontwikkelingsplanproses) behuising die grootste kwessie was wat deur die gemeenskap uitgelig is. Agtergeblewe areas is veral benadeel deur die destydse ruimtelike ontwikkeling. Dit het ‘n ernstige tekort aan behoorlike behuising tot gevolg gehad.


Sy het dit ook benadruk dat as gevolg van beperkte hulpbronne en beperkte finansiële toekennings vanaf die nasionale en provinsiale regerings, behuising altyd ‘n uitdaging sal wees omdat die behoeftes van ons gemeenskap jaarliks aanhou om te groei. “Sedert my termyn in 2016 begin het, het ek myself daartoe verbind om die behuisingsituasie in die breër Stellenbosch te verbeter. Daarom het ons in alle erns begin met die beplanning en implementering van behuisingsprojekte. Dit is vir my lekker om te kan sê dat ons reeds besig is om verskeie projekte te implementeer en dat daar nog in die finale fases van beplanning is. Ek weet dat ons gemeenskappe die onderskeie projekte met ‘n jaloerse oog dophou, maar ek kan u verseker dat die ontwikkeling regoor die breër Stellenbosch versprei is. “ het Burgemeester van Deventer gesê.


Met die finalisering van die begroting vir die 2019/2020 finansiële jaar het Burgemeester van Deventer na aanleiding van die GOP versoeke, operasionele fondse beskikbaar gemaak om beplanning vir maatskaplike behuising (woonstelle) te bespoedig en so veral ouer inwoners en agterplaasbewoners te akkommodeer. Die besonderhede is nog nie gefinaliseer nie, maar die beplanning gaan veral fokus op geleenthede vir Cloetesville en Idasvallei.

Die munisipaliteit het onder meer begroot vir die volgende behuisingsprojekte oor die volgende drie jaar:

Ten opsigte van die agterplaasbewoners het die Burgemeester die volgende gesê:
“Ek het gehoor gegee aan die pleidooie van die agterplaasbewoners regoor ons munisipale gebied en het reeds ‘n paar maande gelede al begin om aandag aan hierdie emosionele en dringende saak te gee deur te begin met ‘n ouditproses om vas te stel presies hoeveel agterplaasbewoners in ons area is, wat hul behoeftes is, asook die voordele waarvoor hulle moontlik kan kwalifiseer. Dit is belangrik om te let dat sommige agterplaasbewoners wel kwalifiseer vir IRDP/FLISP subsidies of selfs GAP-behuising kan bekostig, maar omdat GAP eenhede nie geredelik beskikbaar is nie, word hulle forseer om as agterplaasbewoners of huurders te bly.”
Daar gaan ook ernstig aandag geskenk word aan van ons huureiendomme. R14,5 miljoen is begroot vir die opgradering van Steps/Orleans Lounge, R5,5miljoen vir Smartie Town in Cloetesville en R4,5 miljoen vir die opgradering van die munisipale woonstelle in Langstraat.
Ten op sigte van die gebrek aan grond vir behuising is R77.5 miljoen begroot om grond te bekom, en ‘n gedeelte daarvan word beoog as gedienste erwe, soos versoek deur die gemeenskap.
Die behuisingsnood neem jaarliks toe, maar as ‘n Munisipaliteit en Raad bly ons daartoe verbind om alles binne ons vermoë te doen om seker te maak waardige behuisingsgeleenthede word so vinnig as moontlik geskep. Ons sal deurlopend met ons inwoners kommunikeer oor die pad vorentoe en hoe hulle daarby sal kan baat vind.

Media queries:

Stuart Grobbelaar T: 021 808 8172 | C: 084 036 1395

Mart-Marié Haasbroek T: 021 808 8024 | C: 072 910 3724

Comments are closed.

Close Search Window