Community, Development, Sport, Town News|

Verklaring deur Uitvoerende Burgemeester Gesie van Deventer

13 Januarie 2022

Werk aan die Cloetesville swembad staan nou einde se kant toe en die gemeenskap kan opgewonde wees oor ‘n pragtige nuwe fasiliteit. Die kontrakteur is hard besig met die laaste afrondingswerk en ons spanne is ook besig met die vervanging en verf van geroeste speelapparaat.

Terselfetyd is daar ‘n proses aan die gang om gekwalifiseerde lewensredders aan te stel om die veiligheid van almal wat die swembad gebruik te verseker. Onderhoude vind vroeg volgende week plaas. Die munisipaliteit wil verseker dat die perseel 100% reg en veilig is voordat ons dit amptelik aan die gemeenskap oorhandig.

Die omvang van die opgraderingswerk is omvattend en behels die vervanging van die pompkamer, nuwe pompe en filtrasiesisteme, die herstel van die swembad, teëlwerk, die oprig van ‘n nuwe veiligheidsheining, die installeering van CCTV kameras en alarms sowel as die verfraaing van die perseel en herstel van kinderspeelareas. Ons strewe om vir ons mense kwaliteit geriewe te gee.

Die swemad deel ook nou ‘n spasie met ‘n nuwe wêreldklas skaatsplankbaan wat in Oktober 2021 geopen is. Die baan is ontwerp met die hulp van Suid-Afrika se Olimpiese skaatsplankryer, Dallas Oberholzer. Die baan is gebou volgens Olimpiese standaarde, maar is ook spesifiek ontwerp om veilig en toeganklik te wees vir jong kinders en beginners.

Daar is heelwat spekulasie en fopnuus rondom die swembad wat op sosiale media versprei word. Hiermee die waarheid:

Die swembad moes gesluit word en was buite werking vir ‘n geruime tyd weens vandalisme. Groot skade is aan die fasiliteite aangebring en die munisipalitiet moes noodgedwonge die swembad sluit en geld in die begroting vind vir die herstelwerk en opgradering.

Die munisipaliteit het nuwe kameras, alarmstelsels en ‘n veiligheidsheining opgerig juis om die perseel in die toekoms teen skelms en vandale te beskerm.

Werk aan die swembad het in Mei 2021 begin.

Tariewe is R6.50 vir kinders, R12.50 vir volwassenes en toegang is gratis vir kinders onder die ouderdom van vyf. Hierdie is vergelykbaar met en selfs goedkoper as aangrensende munisipaliteite se tariewe.

Die tariewe word benodig om die swembad, badkamers en tuine skoon, veilig en netjies te hou.

Ons verstaan dat mense opgewonde is oor die nuwe swembad en nie kan wag om in te duik vir ‘n bietjie verligting van die warm somerweer nie. Ek kan nie wag om die swembad eersdaags saam met die gemeenskap oop te maak nie! ‘n Openingsdatum sal bevestig word en met die gemeenskap gedeel word.

Comments are closed.

Close Search Window