Stellenbosch Municipality

As deel van die opkomende Mandeladag en my toewyding om my 67 minute te gee vir die gemeenskap het ek al reeds op 10 Julie 2017 die Stellenbosch Voedingsaksie besoek om te gaan kyk na die werk wat hulle doen. Die besoek  het my die geleentheid gebied om diensbaar te wees en dit was lekker om kos uit te deel by een van hul gereelde dienspunte in die Cloetesville omgewing.

Mandeladag word jaarliks regoor die wêreld herdenk op die verjaarsdag van oud –President, Nelson Mandela. Mense word aangemoedig om 67 minute gemeenskapsdiens te doen op die dag om die nalatenskap van Mnr. Mandela te vier. Die 67 minute is ter herinnering vir mnr. Mandela se 27 jaar in die tronk.

Die werk wat deur organisasies soos Stellenbosch Voedingsaksie en ander gedoen word is van onskatbare waarde. Hulle help om die nood te verlig in van ons mees behoeftigste gemeenskappe op ‘n positiewe en volhoubare manier. Dit word ook ondersteun deur inwoners binne die gemeenskappe wat help om kos voor te berei en uit te deel elke dag.

Daar is so baie wonderlike organisasies wat op ‘n verantwoordelike manier ons gemeenskappe en inwoners bystaan. Dit is belangrik dat ons hierdie organisasies ook ondersteun. Ek wil elke persoon aanmoedig om sy 67 minute te gee op die 18 Julie en ‘n verskil te maak in die lewens van ons behoeftige mense. Dis ons plig om om te sien na mense in nood.

Vanjaar se Mandeladag-tema is juis Aksie Teen Armoede.  Gaan kyk gerus by www.mandeladay.com hoe u kan help en skakel u plaaslike raadslid om te hoor watter organisasies en projekte in u omgewing is waar u ‘n bydrae kan maak. Een mens kan ‘n verskil maak.